Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 03 JULIE 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

GROOT JD-DXer STIL SLEUTEL

Dit is verneem dat een van die wêreld se grootste JD-DXer Dianna Killeen, KB6NAN, se sleutel op 6 April 2011 stil geraak het. Sy was gekrediteer met baie DXCC-toekennings, het aan verskeie DXpedisies na rare plekke deelgeneem en het as QSL-bestuurder vir verskeie TOP-DXers opgetree.

Sy sal wêreldwyd baie deur DXers en vriende gemis word.

(POUSE)

In die nuus vandag:

PROSES VIR AMATEURRADIO-EKSAMEN OOREENGEKOM

DRINGENDE BOODSKAP AAN ALLE AMATEURLISENSIEHOUERS

SARL-LIDMAATSKAP EN DIE FORUM

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

PROSES VIR AMATEURRADIO-EKSAMEN OOREENGEKOM

Die SARL en OKOSA het weer na die modereringsproses van die radioamateur-eksamen gekyk. Na elke eksamen kontroleer ’n moderator, wat deur die SARL aangestel is, die eksamen se resultate en maak seker dat alle antwoorde korrek gemerk is en dat die punte reg bereken is. In ’n veelvuldige keuse eksamen is ’n antwoord slegs reg of verkeerd. Die eksaminator het geen diskresie nie. Daar kom egter soms grensgevalle voor waar ’n kandidaat baie hoë punte in een afdeling behaal maar baie min kortkom om die minimum van 50% in die ander afdeling te behaal. Dit is in sulke gevalle dat die moderator die antwoordstelle nagaan en ’n aanbeveling aan OKOSA maak. Met die laaste eksamen was daar ’n aantal grensgevalle waarna weer gekyk, en aanbevelings aan OKOSA gemaak is, wat tot gevolg gehad het dat nog kandidate geslaag het. Die betrokke kandidate is oor die proses en die uitslag ingelig.

Die SARL word dikwels gevra om die persentasie punte te verskaf en nie net die simbool nie. Die SARL het dit met OKOSA bespreek, maar dié het besluit om by die bestaande praktyk te bly deur net die simbole, en nie die persentasies nie, te verskaf.

DRINGENDE BOODSKAP AAN ALLE AMATEURLISENSIEHOUERS

Hierdie nuusberig is ’n aantal kere in onlangse bulletins ingesluit maar die SARL ontvang steeds oproepe van radioamateurs aangaande hulle lisensies. Maak asb. die volgende inligting aan u amateurvriende bekend of sê aan hulle om by www.sarl.org.za te gaan kyk:

OKOSA het meer as 34 000 radiolisensies, wat vir die afgelope 365 dae onopbetaald was, gekanselleer. Dit sluit alle amateurradiolisensies in waarvoor geen betaling vir die tydperk ontvang is nie. Gaan na of u u lisensiegeld betaal het, en, indien u nie ’n geldige, gedrukte, lisensie of ’n offisiële kwitansie het nie, skakel OKOSA by 011 566 3313 of 011 566 3319 tussen 08:30 en 16:00 Maandag - Vrydag. HOU U LISENSIENOMMER BYDERHAND. Indien u amateurlisensie gekanselleer is, skakel OKOSA so spoedig moontlik en OKOSA sal u lisensie herstel indien u bewys van betaling kan verskaf. Indien u nognie betaal het nie, betaal dadelik met gebruik van die inligting en rekeningnommer van u laaste lisensie.

SARL-LIDMAATSKAP EN DIE FORUM

Volgende op ’n AJV-besluit, sal nie-lede nie meer toegang tot die forum hê nie. Dit is op 1 Julie inwerking gestel.

Die SARL het verlede maand rekeninge vir ledegeld uitgestuur en lede het goed gereageer. Ledegeld was op 1 Julie betaalbaar. Lede wat nognie betaal het nie, sal ’n boodskap ontvang wanneer hulle by die webtuiste inskakel. Die databasis wat hierdie boodskappe laat verskyn word weekliks op datum gebring. Indien u reeds betaal het, maar steeds die boodskap kry dat u ledegeld uitstaande is, wag 10 dae en indien die boodskap steeds verskyn wanneer u inskakel, skakel die kantoor by 011 675 2393 gedurende kantoorure.

Daar kan verskeie redes wees waarom u rekening nie met u betaling gekrediteer is nie. Dikwels is u naam en/of roepsein nie op die bankoordrag aangebring nie. Die SARL ontvang baie elektroniese oordragte wat nie met ’n naam of roepsein verbind kan word nie. Maak asb. seker dat u u naam en of roepsein op die elektroniese oordragdokument verskaf.

Terwyl die SARL lede aanmoedig om so spoedig moontlik te betaal, is die afsnydatum 31 Augustus. Indien u ledegeld teen 1 September nognie betaal is nie, word u toegang tot die afdelings vir lede alleen sowel as die forum geblokkeer. Hernu asb. onverwyld. Baie dankie aan lede wat reeds betaal het. Ons waardeer u ondersteuning aan die SARL sowel as amateurradio.

‘N JAAR OP DIE MAAN BINNE 2 MINUTE

In ’n nuwe aanlyn tydgekompakteerde video van die maan, geproduseer deur die Goddard Ruimtevlugsentrum se Wetenskaplike Visualiseringsateljee, word een maand in 12 sekondes en een jaar in 2,5 minute saamgepers. Gemaak met geruik van data van die Lunar Reconnaissance Orbiter ruimtetuig, toon die video hoe die maan in sy baan waggel, hoe die skommeling en helling verander en sy baie fases. U sal die video by YouTube vind deur die kortpad tinyurl.com/3ffmhbe. te volg.

KOMPETISIENUUS

DX OP 1,8 MHz?

Van die lessenaar van die toekenningsbestuurder.

Die meeste Suid-Afrikaners sou nie 1,8 MHz as 'n DX-band beskou nie. Die meeste van die operateurs op die band het dalk nog nooit 'n DX-stasie daar gehoor nie.

Raoul Coetzee, ZS1REC, het hulle so pas verkeerd bewys. Hy het 'n DXCC-sertifikaat verdien deur te bewys dat hy met stasies in meer as 100 lande op die band gesels het! Raoul word die vyfde Suid-Afrikaner en die eerste ZS1 om dié mylpaal te bereik.

Raoul woon op 'n klein stadserf, net 'n kwart golflengte in deursnee. Hy gebruik draadantennes en matige drywing. 'n Goeie begrip van voortplanting en 'n klomp deursettingsvermoë maak op vir die beskeie stasie. Raoul werk in die elektronika-nywerheid en is sedert die 1980's aktief. Hy is min op die ander bande, en gebruik meestal net kode.

RESULTATE VAN DIE ZS4 NAELLOOP

Die Sasolburg Radioklub is verheug om die wenners van die ZS4 naelloop bekend te maak. 15 logstate en een kontrolelog is ontvang. Eerste plek gaan aan ZS4BFN met 114 punte. Tweede plek is ingeneem deur Marius Preston, ZS4MP, met 97 punte. In die derde plek is Jaco le Roux, ZS3JLR, met 57 punte. Baie geluk aan julle!

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteit op baie lae tot lae vlakke sal wees. Beide sonvlekke 1 242 en 1 243 is besig om te groei en 'n derde sonvlek is besig om tussen hulle te ontstaan. Al die sonvlekke is in die Noordelike halfrond geleë.

Daar is tans 'n moontlikheid vir C-klas sonfakkels. Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is sowat 25.

Met winter hier en die laer sonaktiwiteit is 20 m die beste keuse vir DX gevolg deur 30 m. Daar is nie 'n goeie kans vir sporadiese 15 m-openinge nie.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Julie – 3de been van SARL QRP-kompetisie.
27 Julie – 4de been van SARL Klubkompetisie.
30 Julie – RTA in Durban.
07 Aug. - SARL HF-foonkompetisie.
09 Aug. - SARL JD-naelloop.
21 Aug. - 3de been van SARL Digitale kompetisie.
28 Aug. - SARL HF-GG-kompetisie.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.
/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.
members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003